Hierdie webtuiste ontstaan vanuit die begeerte om 'n "fisiese" spasie te skep waar ek 'n kolleksie kan begin die dinge wat ek deur die jare gemaak het en sal aanhou maak. Van nature, as 'n skrywer en kunstenaar is my woorde en verfspatsels oraloor gestrooi - Boeke gelyn met my gedagtes onder die skuilnaam van 'n spookskrywer staan op rakke wat ek nooit sal sien nie; Prente wat ek geskets het as 'n student leef in rame in die huise van mense wat ek nie kan onthou nie; Kinders mag dalk my gesig onthou of 'n storie wat ek vir hulle vertel het, maar ek gaan hulle nie sien grootword of sien wat daarvan kom nie.
Ek sien myself wat sade saai. Ek sien nie gewoontlik wat daaruit groei nie.
Ek hoor toe onlangs in 'n potgooi (*lekker woord vir podcast, ne?) deur die Atlantic dat modern mense vasklou aan goed. Dis hoekom ons foto's neem van alles en vir almal aanlyn moet laat weet as ons iewers was - anders, het dit ooit regtig gebeur? Natuurlik kan so 'n obsessie met vashou (vasklou) aan tyd terwyl dit deur ons vingers gly nie gesond wees nie...
Maar ek self het nog altyd die teenoorgestelde probleem gehad. Moet my nie verkeerd verstaan nie, dis glad nie beter nie. Ek klou aan niks nie. 'n Self-geproklammeerde minimalis, waardeer ek 'n effense afstand tussen my en dinge. Tog het ek gereeld perongeluk die baba met die badwater uitgegooi...
Ek onthou hierdie een sepia-gekleurde foto wat ek as 'n jong tiener ontdek het. Die hoekies was gerond en die papier blink. Dit was 'n foto wat my ma geneem het op een of ander vakansie oorsee toe sy my ouderdom was. Daar was niks besonderlik amazing oor die foto nie, ek dink dit was net die see en 'n boot en 'n paar mense. Maar ek onthou hoe ek in daardie prentjie ingestaar het en gevoel het asof ek na 'n ander tyd toe reis. Ek weet nie wat met daardie foto gebeur het of hoekom ek besluit het om daarvan afstand te neem nie, maar ek dink semi-gereeld daaroor.
In my sewe-en-twintig jaar was daar nog ontelbaar baie kreatiewe idees wat dieselfde pad moes loop.
Voordat ek op hulle reflekteer wil ek wel noem dat ek nie voel asof ek verkeerd was om te laat gaan nie. Ek glo sterk dat ons beste eienskappe ook ons slegstes is. Soos as iemand perfeksionisties is - Dit mag dalk beteken hulle doen dinge voluit, maar dit beteken ook hulle neem baie langer om iets gedoen te kry.
Selfs al het al hierdie kreatiewe idees tot 'n einde gekom, voel ek asof ek nogsteeds stukkies van hulle met my saamdra en ek het 'n vreemde gevoel dat hulle almal nuwe asem gaan skep eendag iewers langs die pad. Soos terrazzo oppervlakte is ek ook gemaak van baie stukkies van verskillende goed...
Eendag, toe ek so twintig was, het ek die hele oggend vir myself gehad in 'n koffie shop met my skootrekenaar (*nog 'n lekker ene - vir laptop!). Teen die einde van die oggend het ek 'n hele NGO genaamd 'Seeds of Hope' ontwerp. Daar was 'n webtuiste geskep en moontlike konneksies geskakel, daar was 'n hele "brand identity" en 'n hele klompie blog posts.
Toe ek 'n student was het ek 'n kreatiewe gemeenskap begin van kunstenaars, fotograwe en skrywers wat een ding in gemeen gehad het: 'n liefde vir stories. Dit was Sonder genoem, gebasseer op die woord deur die Dictionary of Obscure Sorrows wat beteken "the realization that each random passerby is living a life as vivid and complex as your own — populated with their own ambitions, friends, routines, worries and inherited craziness — an epic story that continues invisibly around you like an anthill sprawling deep underground, with elaborate passageways to thousands of other lives that you'll never know existed, in which you might appear only once, as an extra sipping coffee in the background, as a blur of traffic passing on the highway, as a lighted window at dusk."
Op 'n heel ander stadium het ek 'n suksesvolle waterverf besigheid gehad. Ek het bestellings geneem en baie prente geverf, geraam en gestuur aan mense wat ek nooit ontmoet het nie.
Tans werk ek as 'n redigeerder en kunstenaar vir Christelike media en ook kinder-media vir mense van oral oor die aarde. My woorde en verfspatsels toer oral rond (Ek is net bietjie jaloers op hulle).
My hoop en my begeerte is dat al hierdie lank-vergete dinge hier by mekaar kan kom... Dat hierdie webtuiste, of blog, of portfolio, of gallery, of biblioteek, of wat ookal jy dit wil noem - Dat dit 'n kolleksie kan vorm, soos 'n skatkis, van die nuwe en die oud en die uit-die-oudedoos (*nog een!) en die heeltemal-te-modernde idees wat my gedagtes vul.
Maar, selfs meer as dit - Ek hoop tussendeur hierdie mooi gemors dat daar iets is wat met jou resoneer, wat jou hart vashou, jou laat nader voel aan die Heilige, of net bietjie dieper laat asemhaal soos wat jy in jou vel vestig.
Op hierdie stadium, wie weet? Dit mag dalk 'n museum word, of 'n plek van bediening. Hoekom nie albei nie?
Ek sal probeer om dit los vas te hou, met oop palms, en sien wat Hy wil doen. Ek hoop jy bly hier rond om ook uit te vind wat gebeur.
Comentarios